Hannes Barnard

Lapa Uitgewers

Resensie deur Anneke Langner

Elke wolk het ’n silwer randjie, maar die een waarvan Hannes Barnard skryf, het ’n vurige oranje gloed wat die leser op die punt van sy/haar stoel sal hou.

Elke wolk het ’n silwer randjie, maar die een waarvan Hannes Barnard skryf, het ’n vurige oranje gloed wat die leser op die punt van sy/haar stoel sal hou. Hannes Barnard se debuut, Halley se komeet, het in 2019 verskyn en Wolk ’n jaar later in 2020. Nog voor die leser die boek begin lees, trek die treffende voorblad deur Linki Brand reeds aandag. Die donkeroranje wolk met geel weerligstrale wat oor die silhoeët-karakters blits, skep alreeds ’n spannende atmosfeer. Linki Brand het ’n Pendoring Advertising Awards-sertifikaat vir hierdie voorblad ontvang.

Wolk handel oor twee tieners, Rufus en Xander, wat ’n avontuur saam wil aanpak voordat Rufus se gesin oorsee emigreer. Rufus en Xander is van kleintyd af boesemvriende en die gedagte om afskeid te neem, is vir hulle ondenkbaar. Alles begin by ’n “onskuldige” besluit toe Rufus voorstel dat hy en Xander vir net drie dae wegglip na ’n plek, sonder sein, om alleen tyd te spandeer voordat Rufus-hulle emigreer. Kort voor lank besef die twee vriende dat hierdie briljante idee, dalk eintlik nie so ’n goeie idee was nie …

Wolk is propvol opwinding. Die hoofstukke wissel tussen Rufus en Xander se perspektief wat dit interessant en lewendig vir die leser hou. Wanneer die wolk dan sy verskyning maak, begin dinge lelik skeefloop. Ouer en jonger tieners (en selfs volwassenes) sal die avontuurgelaaide aard van die boek geniet en met die hegte vriendskapsbande en aktuele kwessies kan identifiseer.

As gevolg van die min karakters in die boek, kry die leser die geleentheid om die hoofkarakters in diepte te leer ken. Die eerstepersoonsverteller word effektief aangewend om simpatie by die leser te kweek. Die dinamika tussen die twee hoofkarakters is so suksesvol dat dit duidelik word dat die een nie sonder die ander een kan bestaan nie.

Wolk kan beskou word as ’n post-apokaliptiese jeugroman wat in die toekoms afspeel. Genregewys kan die boek met Virus van Jaco Jacobs vergelyk word, alhoewel Wolk in ’n ligter trant geskryf is. Die storie laat die leser wonder hoe hy/sy self sou oorleef wanneer ’n reuse- vuurspuwende wolk die wêreld uitwis.

Die skrywer kan geprys word vir die unieke ruimte-uitbeelding van Suid-Afrika. Die leser kan maklik visualiseer hoe die karakters uit die stad na die platteland beweeg. Die beskrywing van die omgewing soos die klimtog teen die berg, die verblyf in die grot, die waterval, die grensdrade en die gevreesde luiperd, is tipies van die Oos-Vrystaatse landskap. Hierdie realistiese plot en ruimte-uitbeelding maak die koms van die wolk dus meer geloofwaardig.

Tydsverloop in die boek word nie net aangewend om spanning te skep nie, maar dra betekenis vir die karakters en dus ook vir die leser. In sommige hoofstukke verskyn die datum saam met die hoofstuktitel. Dit is miskien ietwat onrealisties vir die karakters om só georiënteerd met die datum en tyd te wees, omdat hulle nie enige kontak met die buitewêreld het nie en omdat hulle selfoontyd beperk is. Daarteenoor, help die konstante verwysing na die datum en tyd in die dialoog die leser om nie verlore te raak nie.

Wolk is ’n aangrypende jeugroman van die voorblad tot by die laaste sin en hou genoeg geheime in sodat die leser geen ander keuse het as om die opvolg, Roet, te lees nie. Lesers moet beslis nie hierdie opvolg van Wolk misloop nie!